Biografie

Só het alles begin…

 

ʾn Dinamiese, pret, positiewe, energieke en passievolle kunstenaar – dis wie Steffie is. Die oopkop, kreatiewe karakter met haar goeie sin vir humor, sal enige uitdaging of geleentheid met groot ywer aanpak.

Steffie was gebore en het grootgeword in die Klein Karoo, waar die wye, oop vlaktes en gretige plaaslike gehoor haar eerste ondervinding as ‘n kunstenaar en aktrise gebrei en gevorm het. Principia College het die fondasie vir Drama, Musiek en Kuns gelê in Stephanie se lewe. Groot rolle in verskeie produksies, onder leiding van mnr. Ronald Burton, het haar geïnspireer om na skool, musiek te studeer by die Universiteit van Potchefstroom.

Stef het in verskeie Eisteddfods deelgeneem, van dans en sing tot solo-optredes waar sy instrumente soos die fluit en klavier gespeel het. Sy het ook vir ʾn jaar oorsee gegaan as ʾn Aupair na Stuttgart, Duitsland, waar sy opleiding om die Cello te speel onder leiding van Chihiro Saito ontvang het, en vokale opleiding onder leiding van Gabriella Pittner by die StudienKreis Musik Hochshule.

Sy tree verskeie kere op in plaaslike produksies soos Little Shop of Horrors, Iolanthe, Animal Farm, Annie en Sound of Music, onder leiding van Ronald Burton. Sy besluit om musiek te swot by Noordwes Universiteit, waar sy haar graad in Musiek ontvang. By die universiteit het sy ook deel uitgemaak van die Alabama-studentegroep, wat die land deur getoer het. Sy was ook deel van die vroulike a capella groep, Cutt Glass.

Sy het, onder andere, al ʾn rol vertolk in die Bosbok 6 Filmhouse fliek, “Verraaiers”, asook in musiekblyspele, “Stuur groete aan Mannetjies Roux” en “Droomkind”.

Steffie het ook vokale opleiding begin met Prof. Werner Nel en het opgetree met La’Orfeo Barok Orchestra as alt sangeres.
Sy sluit ook aan by die CAT (Creative Arts Theatre) en Aldante dansstudios vir dansless in verskeie style soos Latyns-Amerikaanse dans, Energie-dans en Jazz-kontemporêre dans.
Sedert 2010 doen Stef die regie en choreografie van verskillende musiekopvoerings op skool- en universiteitsvlak. Sy het ook die universiteitskoor afgerig wat aangegaan het om die nasionale koor-kompetisie in 2010 te wen.

As eienaar van haar akademie bied sy opleiding vir die stem, instrumente, uitvoerende kunste, drama en kreatiewe denke.

Stef is nie net ʾn veelsydige kunstenaar nie, maar het ook baie ondervinding in die bestuur van verskillende aspekte in die uitvoerende kunste. Haar kreatiwiteit en dinamiese persoonlikheid verleen ʾn varsheid aan enige produksie waarby sy betrokke is.